13 November 2006
Die KOINONIA UITREIK is ‘n Christelike uitreik aksie na alle Afrikaanse Christene in die buiteland.
Ek het self 4 kinders in Londen en ken ‘n hele paar mense wat oral in die wêreld gevestig is of tydelik daar werk. My ervaring is dat daar by meeste ‘n behoefte bestaan aan Christelike bediening omdat daar geen Afrikaanse Kerk naby aan hulle is nie. Daar is wel ‘n klompie Afrikaanse gemeentes in van die groot sentra in die buiteland, maar hulle bereik net ‘n deel van die mense wat nog in Afrikaans bid en bedien wil word in hul eie taal.
Ek het die geleentheid gekry om preke op DVD op te neem hier in Tzaneen, by die Ateljee van The River Studio, waar ons die opnames maak. Ons kry twee halfuur preke op ‘n DVD in verkorte erediens vorm.
Die eerste 4 preke is reeds opgeneem en is nou beskikbaar op 2 DVD’s met die preektitels : 1. Offer jouself aan God ; 2. Wat is bekering? ; 3. Hoe lyk ons geloofslewe? ; 4. Die Kerk, die liggaam van Christus.
Die eerste reeks is preke uit die hele Romeine 12, wat eintlik in ‘n sekere sin ons hele geloofslewe omvat. Die preke is oral baie goed ontvang en ek is nie skaam vir die inhoud daarvan nie. Dis ook baie aktueel.
Ek het die DVD’s Vrydag 4 November gekry. Hulle lyk goed, selfs vir my. Hulle is in ‘n Ateljee opgeneem, maar in ‘n sitkamer agtergrond en atmosfeer. Die ds staan nie op die kansel en kyk neer op die gemeente nie. Dis baie informeel, maar die inhoud is heeltemal en suiwer Skriftuurlik.
Ek is al vir 19 jaar uit die voltydse bediening a.g.v. swak gesondheid, maar ek kan darem nog preek, wat vir my ‘n bron van groot vreugde is. Ek het die reeks preke vyf jaar gelede begin maak en het dit onlangs voltooi. Omdat hulle inhoud so uitnemend geskik is vir die KOINONIA UITREIK aksie het ek op hulle besluit vir die eerste reeks. Ek herskryf elke preek vir die KOINONIA UITREIK, aangesien dit gemik is op alle Christene en selfs vir mense wat nog nie tot die geloof gekom het nie, of bietjie weggedwaal het.
Daar is ook ‘n reeks oor die Huwelik in beplanning en later een oor Gebed. Ek sal ook later ander predikante betrek in die program.
Ek het jou naam gekry as ‘n moontlike belangstellende in die DVD’s en ek hoop jy sal bestel. Maar ek hoop ook dat jy vir my nog name en e-pos adresse van Afrikaanssprekendes sal aanstuur na my e-pos adres hierbo. Hoe meer mense van die DVD’s koop, hoe meer ekonomies is dit vir almal. Tans is die prys 12 Pond Sterling, by ‘n verkooppunt in Brittanje, pos en verpakking ingesluit, maar as verkope en bestellings goed gaan, kan dit verminder. Vanaf S.A. is die prys R150 per DVD, wat pos en verpakking insluit, na enige plek in die wêreld.
As jy vir jouself en vir vriende saam bestel na jou adres toe, dan maak dit dinge vir my makliker. Om te bestel is eenvoudig. Stuur vir my ‘n e-pos met jou adres en die hoeveelheid van elke DVD en ek pos dit dadelik aan jou by daardie adres. Vir betaling sal ek reël dat jy dit na my toe of na my seun in Londen toe stuur as jy in Brittanje of daar iewers woon.
Vir plekke elders raai ek aan dat mense privaat bestel, of ‘n groepie vorm wat saam koop. Wanneer jy bestel, dan praat ons oor die manier van betaling.
Ek hoop om spoedig van jou te hoor! Die hele projek maak my baie opgewonde en ek hoop om sommer baie mense in die buiteland te bedien tot eer van die Here. Alle seën daar vir jou en vir al jou dierbares.
Groete in Christus,
Dirk Stoltz.
dirkstoltz@nhk.co.za
www.nhk.co.za